Search This Blog

Friday 9 June 2017

Net goedheid en guns?


Ek sit vandag met 'n vreeslike diep hartseer in my binneste. Dis een wat maak dat ek my kop in my kussing druk, terwyl rou snikke deur my liggaam ruk. Ek weet baie van julle was ook al op so 'n plek en weet waarvan ek praat. Dis 'n seer plek om te wees. Dis nie 'n plek waar mens ooit kies om te wees nie, en as jy geweet het die pad waarop jy loop, lei daarheen, het jy dit vermy. Maar hierdie bestemmings tref ons onverwags aan en, as ons eers daar is, is dit nie so maklik om weer daar weg te kom nie. Ons kan nie vermy om te voel nie, en ons sal maar die stel ervarings moet optel en hulle moet hanteer voor ons die vaardighede ontwikkel om aan te beweeg. En soms moet ons onsself maar loshuil uit die ding uit, want al daai huil het uiteindelik die vermoë om ons los te spoel uit die ding wat ons so verstrik in sy seerkry.
In alle geval, terwyl ek nou daar in die kussing lê en huil, sit ek my musiek harder aan as gewoonlik, want dan hoef ek nie na buitestaander-wysheid te luister oor hoe ek moet voel, of wat ek moet doen, of hoe ek oor dinge behoort te redeneer nie. My iPod is op 'n versameling (playlist) 'gospel' musiek aan wat hy sommer so 'random' kies en dan speel. Skielik kom Keith Green se weergawe van Psalm 23 op en dis asof dit in die gees met 'n 'highlighter' uitgelig word vir my. Ek vertaal sommer na Afrikaans en haal uit die lied aan: Slegs goedheid en guns sal my volg. Goedheid en guns is nie dit wat ek vandag ervaar nie! 'n Mens kan bitter wees as jy oor die goed dink terwyl jy daar in jou seer lê en snik. Jy kan. Maar dan vergeet jy dat hierdie woorde in 'n breër konteks staan. As jy na die openingswoorde van hierdie Psalm gaan in die Bybel, dan sal jy sien dat daar staan dat dit een van Dawid se Psalms is. Hy het hierdie woorde geskryf. Hierdie is Dawid se getuienis oor sy eie lewe. En dan moet ek stop en myself afvra hoe Dawid se lewe lyk.
As kind is hy die jongste in die huis en hy word as skaapwagter aangestel. Daar moet hy wilde diere, 'n beer en 'n leeu, trotseer om die skape te beskerm. Wie van ons sou nie vir onsself jammer gevoel het as ons alleen in die veld gelaat was en hierdie dinge op ons eie moes hanteer nie? Dan word hy later tot koning oor Israel gesalf, maar hy kry geen erkenning van mense vir sy aanstelling nie. Inteendeel, hy is maar slegs 'n musikant en soldaat in die koning se paleis. Die koning maak beloftes aan hom om hom te vergoed vir sy heldedade en dan gaan hy op sy woord terug. Uiteindelik moet Dawid vir sy lewe vlug voor die koning en in grotte en spelonke wegkruip. Net goedheid en guns? Klink nie vir my so nie!
Maar dis nog nie die ergste nie. Een van sy seuns verkrag sy eie halfsuster. Dan kom haar broer en maak sy halfbroer dood. Die uiteinde van hierdie saak, is dat die moordenaar-seun, Absalom, uiteindelik 'n staatsgreep uitvoer op sy pa se regering en Dawid moet voor sy eie seun uitvlug vir sy eie lewe. Dan, om alles te kroon, verkrag hierdie seun sy pa se byvrouens op die paleis se dak, as openbare vernedering vir sy pa. Kan dit erger word? Is dit soos goedheid en guns lyk? Teen hierdie tyd het my eie trane opgedroog, want teen Dawid se swaarkry en seer lyk myne skielik na kinderspeletjies.
Maar miskien het Dawid net nie diep gevoelens gehad nie. Miskien was hy een van daai mense wat so ligvoets oor emosionele goed kon hardloop en klaarblyklik nie geaffekteer word daardeur nie. Maar dan kom ek voor een van die aangrypendste verse in die Bybel te staan en ek weet dit is ook nie die waarheid nie, want die emosie is rou en diep en onontkenbaar wanneer Dawid die nuus ontvang dat Absolom, sy seun wat hom wou doodmaak, self dood is:
Die koning het sy gesig toegehou en hardop uitgeroep: "My seun Absalom; Absalom, my seun, my seun!" (2 Samuel 19:4).
Kan hierdie dan dieselfde man wees wat skryf dat slegs goedheid en guns hom al die dae van sy lewe sal volg? Reeds op jong ouderdom was dit tog al duidelik dat dit nie die waarheid is nie! Hoe kan mens dit dan verstaan?
Miskien lê die sleutel in die eerste vers. Dawid was self 'n skaapwagter, of herder. Hy het geweet wat dit behels. Hy het eerstehandse kennis en ervaring gehad. Hierdie ervare herder sê "Die Here is my herder." Hy het verstaan dat dit nie beteken dat bere en leeus nie jou lewe sal bedreig nie. Maar hy het ook verstaan dat wanneer daardie bedreiging kom, dan is daar 'n Herder wat die gevaar van jou lyf sal weghou. Hierdie Herder sal wonde verbind, en jou uitbring by plekke waar daar volop en goeie kos is. Hy bring jou by 'n plek waar jy in vrede jou kop kan laat sak en drink sonder om 'n oog op die horison te hou vir moontlike aanvallers. Wanneer jy aan die einde van jou krag kom, vind Hy 'n manier om vir jou nuwe krag te gee. Maar let wel, jy kan die einde van jou krag bereik. Jy word na vrede gelei. Die implikasie van die leeu en die beer is altyd daar. Hierdie Herder lei jou op die regte paaie, selfs al lei daai paaie deur gevaarlike plekke (donker dieptes). Die vertroue is altyd dat God sal red en hom, en vir jou en my, veilig sal hou.
Nou let op: Dawid spog daaroor dat hy by 'n feesmaal sal aansit wat vir hom voorberei is deur die goeie Herder. Wonderlik. Terug by goedheid en guns, dan. Tog gee die tweede helfte van hierdie vers vir ons meer insig as dit praat van sy teëstanders. Dawid het sy vertroue in God gestel te midde van teenstand. Die teëstanders was daar, naby genoeg om hom dop te hou terwyl hy eet, in sy midde. Maar so ook was God! Daarom kan Dawid sê dat goedheid en guns hom sal volg AL die dae van sy lewe, selfs op die donkerstes wanneer hy uit sy hart uit huil oor sy dooie kinders.
Maar moenie die kruks van die saak mislees daar heel aan die einde van die Psalm nie. Daar staan "ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae." Die tempel is eers deur Dawid se opvolger gebou. Waarvan praat Dawid dus hier? Dawid verwys na sy eie huis. Hy het sy huis, sy koninkryk en sy lewe in God se Herdershande geplaas. Dis God se eiendom. God is nie tuis in Dawid se huis nie. Dawid is tuis in God se huis. Dawid is 'n gas, nee 'n eregas, in God se huis. As jy die gas is, is dit nie jou taak om te voorsien nie. Dis nie jou taak om reg te staan nie. Dis nie jou taak om die kos voor te berei nie. Dis nie jou taak om die huis te beveilig en te sorg dat al die deure gesluit is nie. Jy sit aan en God sal sorg. Net goedheid en guns sal jou volg as jy al die dae van jou lewe in die huis van die Here bly!

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy my books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
You may prefer to follow the traveling blog, A Pretty Tourist.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to any of these blogs to receive regular updates by email, by simply registering your email address at the top of the applicable blog.

No comments:

Post a Comment