Search This Blog

Sunday 21 May 2017

Stinkende Drome


Ek lees vanoggend in Johannes 11 oor die gedeelte waar Jesus vir Lasarus uit die dood opwek. Dis so 'n bekende gedeelte dat mens maklik die versteekte skatte daarin miskyk. Laat my dus toe om hierdie bekende stuk weer nuut te bekyk met jou vandag, uit so bietjie van 'n ander perspektief.
Die eerste ding wat my opgeval het in hierdie gedeelte, was dat dit bekend was dat Jesus lief was vir Lasarus en sy twee susters, Maria en Marta. Ek het vroëer die week op TV gesien hoe 'n ma sê dat dit vir haar 'n verleentheid is om in die openbaar te erken dat sy lief is vir haar kind. Maak dit jou ook ongemaklik om vir mense te sê dat jy vir hulle lief is? Dink jy dit vat iets van jou weg wanneer jy vir mense sê dat jy hulle respekteer of van hulle hou? Ons leef in 'n wêreld waar arrogansie en meerderwaardigheid aan ons voorgehou word as kwaliteite wat nagejaag moet word. Dink maar aan die 'humor' van die deursnit sitcom om te toets of hierdie stelling waar is, of nie. Tog is nederigheid een van die belangrikste kenmerke van 'n Christen se lewenswandel. Dit neem niks van jou af weg om ander mense op te hef met jou woorde nie. Inteendeel, jy sal vind dat dit jou verhoudings versterk en tot jou menswaardigheid bydra.
Nog iets wat my opgeval het in hierdie gedeelte is die empatie waarmee Jesus met mense omgegaan het. Hy het begrip gehad vir hulle seerkry en verlies. Ten spyte daarvan dat Hy geweet het dat Hy Lasarus uit die dood gaan opwek, dat hierdie slegs 'n tydelike toestand was waarin Lasarus verkeer het, HUIL Jesus saam met die wat rou. Hy word aangedaan deur Sy emosies en VOEL saam met die mense om Hom. Lees gerus verse 33, 35, en 38. Ek vind soveel troos hierin. Al weet God dat Hy vir my uitkoms sal gee in my omstandighede, het Hy steeds empatie met my pyn. God fokus nie slegs op die toekomstige uitkoms se omstandighede nie, maar ontmoet my nou hier in my huidige pyn en seerkry.
Herinner jou aan mense se trooswoorde wanneer hulle by 'n graf staan. Hulle sê graag vir jou dat jy hoop het om weer eendag met die oorledene herenig te wees in die hiernamaals. Trouens, Marta gebruik hierdie selfde troos-gedagte in vers 24, wanneer sy sê:
"Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan."
Jesus beaam die korrektheid van haar woorde. Daar is niks fout met die stelling nie. Maar dit keer Hom nie om nou reeds in hierdie pyn saam met haar, Maria, en die omstanders te huil nie. Jesus verstaan jou pyn en seerkry. Hy het empatie daarmee. Sy Goddelike perspektief weerhou Hom nie daarvan om jou in jou omstandighede te ken nie. Selfs nie al is die uitkoms op hande nie, soos in die geval van Lasarus se opstanding uit die dood.
Kom ons praat 'n bietjie meer oor Goddelike perspektief. Hierdie hoofstuk loop oor daarvan. Wanneer Jesus tyding ontvang dat Lasarus siek is, toon Hy Goddelike insig deur te sê dat hierdie siekte ten doel het om God te verheerlik. Dan stel Hy uit om na Lasarus toe te gaan, ten spyte van Sy diep emosionele verbintenis met die gesin.
Wanneer Hy uiteindelik planne maak om daarheen te gaan, raai sy dissipels Hom af om dit te doen, want hulle weet dat Jesus daar, in die omgewing van Jerusalem, gesoek word om gevange geneem te word. Dit sou gevaarlik wees om daarheen terug te keer. Weereens toon Jesus Goddelike insig. Hy praat met die dissipels oor tye. Dis veilig om in die dag te reis as jy kan sien waar jy gaan. As jy in die nag reis, staan jy gevaar om te struikel. Daar is geen verduideliking vir hierdie stelling nie. Dus moet ons dit self ontleed. Jesus praat hier oor tydsberekening. Dit gaan nie oor die tyd van die dag waarop Hy wil reis nie. Dit gaan daaroor dat Hy dinge doen volgens God se tydskedule. Onthou hoe Hy gewag het voor Hy na die siek Lasarus gegaan het? Waarom? Omdat Hy geweet het dat God verheerlik moet word in hierdie insident. Dit gaan nie oor Homself en Sy eie emosionele belewenis van die saak nie. Dit gaan oor God en die uitbreiding van Sy koninkryk. Wanneer Jesus volgens die Vader se tydskedule werk, is daar geen gevaar dat Hy voortydig gevange geneem sal word nie. Dan maak dit ook nie saak of Lasarus net siek of reeds dood is nie. Dan is God in beheer en gebeur dinge soos Hy dit bepaal. Dan is dit nie meer Jesus se belange wat voorop gestel word nie, maar die Vader s'n. Wie se belange is voorop gestel in die besluite wat jy neem oor jou skedule? Doen jy wat sin maak, of doen jy soos God dit bepaal?
Daar is nog 'n insident waar Jesus se Goddelike insig en perspektief na vore tree. Hy deel die dissipels mee dat Lasarus slaap. In hulle korrekte menslike kennis, bereik hulle die konklusie dat hy dan sal gesond word. Met Goddelike kennis, weet Jesus egter dat hy reeds dood is. Hy sê dit dan ook so pertinent aan die dissipels.
Nou wat is dan die punt om Jesus en die dissipels se lewens te waag deur terug te keer na die Jerusalem omgewing toe? Die ongelowige Tomas, soos hy bekend geword het in die volksmond, toon weereens sy ongeloof in Jesus se vermoë om die politieke tye van die dag te oorleef in v. 16b:
"Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe."
Alhoewel hierdie gedeelte ook ongelowiges insluit, is dit die gelowiges wat aan die kern van die verhaal sit. Dis mense wat telkens 'n geloofsbelydenis aflê wanneer menige van hulle erken dat Jesus siektes kan genees, en dat die ewige lewe in Hom te vind is. Tog is hulle geloof, insig, kennis en perspektief beperk. Hulle faal in volkome geloof, as ek dit so mag stel. Maar let op hoe dit nie teen hulle gehou word nie. Jesus gebruik dit slegs as 'n geleentheid om hulle meer van Homself, die Vader en hulleself te leer.
Wanneer Jesus voor die graf staan, gee Hy opdrag dat die steen wat die graf toemaak, weggerol moet word. Marta, die praktiese suster, teken kapsie aan. Die lyk is al vier dae in die graf. Dit moes al begin ontbind het en stink.
Het jy 'n Goddelike droom vir jou lewe wat al so lank wag om in vervulling te tree, dat jy dit reeds in 'n graf agter 'n klip toegerol het, sodat jy nie aan die stank daarvan blootgestel hoef te wees nie? Miskien kort jy Goddelike perspektief om te verstaan dat God talm om die droom te verwesenlik, want Hy moet daardeur verheerlik word. Wil jy die tyd ryp druk, terwyl Jesus vertoef om te kom? Wie se droom is dit? Joune? God s'n? As hierdie droom, soos Lasarus, by God ontstaan het, is dit tyd dat jy dit vir Hom teruggee. As 'n dooie, stink, ontbindende Lasarus veilig was in Jesus se hande, is jou droom ook veilig daar.
Wat weet Jesus wat jy nie weet nie? Laat Hy jou self vertel in vers 41b-42:
"Vader, ek dank U dat U my verhoor het. Ek weet dat U my altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U my gestuur het."
Selfs die dood wyk, wanneer jy jou eie emosies, belange en idees in lyn bring met God se tydsberekening, wil en besluite. Gee jou drome terug aan God. Hulle is veiliger by Hom as in jou hande. Staan dan terug en bid vir Goddelike perspektief, kennis en insig. En GLO!
Wat gebeur wanneer daar geloof is? Vers 45 sê:
"Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom."
Is dit nie belangriker as om dinge op jou eie tyd en terme gedoen te kry nie? Gun mense om Jesus te sien werk - ook in die drome wat God vir jou lewe het. Ek bid saam met jou vir wysheid, insig en perspektief. Sal jy dit ook vir my doen?

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy my books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
You may prefer to follow the traveling blog, A Pretty Tourist.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to any of these blogs to receive regular updates by email, by simply registering your email address at the top of the applicable blog.

No comments:

Post a Comment