Search This Blog

Thursday 2 March 2017

Wie is jou opposisie?


Wie is jou opposisie? Dink gou. Wie is dit wat jou teenstaan? Het jy 'n persoon in jou gedagtes? Ons het almal mense wat ons teenstaan en baie van ons ly gruwelike ongeregtighede onder hierdie mense. Kan jy dink hoeveel erger dit sou wees as jou Opponent God self was?
"Kyk, sê die Here, Ek is teen diè profete wat hulle eie stories vertel, en dan sê: 'Die Here sê so.'" (Jeremia 23:31).
Dink hoe erg moet dit wees as God TEEN jou is.
Ek het vandag 'n boodskap vir almal wat stories opmaak en dit dan aan God se nek hang, asof Hy die Outeur daarvan is. Ek praat met mense wat woorde uitdink en dan sê dat God so gesê het. Ek praat met mense wat visioene fantaseer en bely dat hulle dit by God ontvang het. Ek praat ook met mense wat getuig van wonderwerke wat nooit plaasgevind het nie. Laat ek dit onomwonde stel: die doel heilig nie die middele nie. Die uitkoms van die saak, maak nie die valshied van die boodskap reg of aanvaarbaar nie. God is Waarheid en Hy assosieer nie met leuens nie. Hy bou ook nie sy reputasie op leuens nie. Jy kan nie met jou menslike verstand iets uitdink wat God groter, of heiliger, of meer wonderlik gaan maak as wat Hy reeds is nie.
Lees 'n paar verse uit Jeremia 23 saam met my:
v. 14: "Ek het iets afskuweliks onder Jerusalem se profete gesien: hulle hoereer, hulle lieg en bedrieg, hulle help diè wat verkeerd doen, met die gevolg dat niemand hom van sy verkeerde dade bekeer nie."
v.16: "So sê die Here die Almagtige: Julle moenie luister na wat die profete sê nie, die profete wat vir julle as profete optree. Hulle wek vals verwagtings by julle, hulle praat oor visioene wat hulleself uitdink, nie oor wat die Here sê nie."
v. 21-22: "Ek het nie hierdie profete gestuur nie, tog het hulle met 'n boodskap rondgehardloop; Ek het nie met hulle gepraat nie, tog het hulle as profete opgetree. As hulle in my raadskamer gestaan het, sou hulle my woorde aan my volk meegedeel het en my volk van hulle verkeerde koers af laat wegdraai het, van hulle sondige dade af."
Ek wil vir jou 'n prentjie skets. Stel jou voor dat jy voor 'n groot rots staan. Dink nou die kragtigste woorde uit waarmee jy vorendag kan kom en spreek dit teen die rots uit. Gebruik soveel kragwoorde as wat jy jou kan voorstel nodig mag wees vir die taak. Of miskien dink jy dat mooipraat en smeekwoorde die ding sal doen. Watter effek het jou woorde op die rots gehad? Het dit geskuif of van vorm verander? Het dit stukkend gebreek of poreus geword? Niks? Geen effek?
Sit daardie eksperiment bietjie op ys en probeer gou iets anders. Stel jou 'n veld vol kurkdroë gras voor. Gebruik nou weer jou redenasies, kwinkslae, kennis, kragwoorde, mooipraat, wat ook al en spreek dit oor die veld uit. Het dit enige effek hier gehad? Het die veld groen geword? Het daar nuwe plante opgeskiet? Miskien het dit alles verbrokkel of weggeskroei of aan die brand geslaan? Weereens niks?
As jou woorde dan geen effek het nie, waarom maak dit dan saak as jy vals profesieë in God se Naam bring?
Laat Jeremia 23 vir jou verduidelik in vers 29:
"My Woord is soos vuur, sê die Here, soos 'n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word."
Jy sien, wanneer God met die rots of die veld praat, is daar nie geen effek nie. Wanneer God praat, verander dinge. God kan nie geïgnoreer word of stilgemaak word nie. Die vers wat direk op hierdie een volg, is die een wat sê dat God teen vals profete is wat in Sy naam praat, maar nie hulle boodskap by Hom gekry het nie.
Ek vra jou weer; Wie is jou opponent? Moenie dat jou uitsprake in God se naam, maak dat Hy jou opponent word nie.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment