Search This Blog

Monday 13 March 2017

Skuld-aanvaarding


Ek wil vandag die woord self-verontskuldiging so 'n bietjie van naderby bekyk, aan die hand van Johannes 5:1-16. Self-verontskuldiging is iets waaraan mens jouself skuldig maak wanneer jy verskoning maak vir jou dade, deur die skuld op iemand anders te pak. Daar is mense wat uiters vernuftig is hiermee en uiteindelik nooit die skuld vir enige iets op hulleself neem nie. Ons tref so 'n man in ons verhaal aan vandag. Ons eerste kennismaking met hom is tydens 'n fees in Jerusalem, toe die stad propvol mense was. Hy het by die bad van Betesda gesit in die hoop dat hy genees kon word van 'n ongespesifiseerde siekte, waaraan hy al 38 jaar lank gely het.
Hierna was daar ’n fees van die Jode, en Jesus het opgegaan na Jerusalem. En daar is in Jerusalem by die Skaapspoort ’n bad met vyf pilaargange wat in Hebreeus Betésda genoem word. Daarin het ’n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het. Want ’n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het. En ’n sekere man was daar, wat agt-en-dertig jaar aan sy siekte gely het. Toe Jesus hom sien lê, terwyl Hy geweet het dat hy al ’n lang tyd siek was, sê Hy vir hom: Wil jy gesond word?
Jesus sien hierdie man raak, en weet dat hy al baie lank siek is. Die vraag wat Jesus hom vra, klink vir ons vreemd: 'Wil jy gesond word?' Hierdie vraag het ek al vantevore met 'n blinde vriendin bespreek. Sy het my nuwe insig gegee in hierdie vraag. Ons het hipoteties bespreek hoe dit sou wees as sy nou skielik sou kon sien. Mens sou aanneem dat dit dinge vir haar sou vergemaklik. Tog is dit nie die volle werklikheid nie. Baie dinge sou inderdaad makliker wees, maar daar sou ook komplikasies opduik. Sy is by magte om braille vlot te lees, maas as siende persoon, sou sy van voor af moes leer lees en skryf om ekonomies te kon deelneem en meeding - iets wat sy as blinde reeds suksesvol regkry in haar eie beradingspraktyk. Dit beteken nie dat my vriendin nie sou wou sien nie, maar slegs dat die saak meer kompleks is as wat mens sou dink. Ek noem dit slegs sodat my lesers sal besef, soos ek destyds, dat daar oorwegings is wat mens nie eens aan dink as siende, of gesonde, persoon nie.
Wat sou die praktiese implikasies van genesing vir hierdie man gewees het? Om watter redes sou hy nie wou genees word nie. Ons het geen insig in die antwoord nie, net so min as waarom ons verstaan wat Jesus se motivering was om hom die vraag te vra.

Die sieke antwoord Hom: Here, ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie; en onderwyl ek kom, gaan ’n ander een voor my in.
Wat sê hierdie antwoord? Wou die man genees word? Klaarblyklik tog, want hy is op die regte plek om genesing te ontvang. Waarom is hy dan nie genees nie? Dis iemand anders se skuld! Hierdie man verontskuldig homself onmiddellik wanneer hy verduidelik dat dit nie sy skuld is as hy nog nie genees is nie. Die ander mense daar bied nie hulp aan nie. Hulle is selfsugtig en dink net aan hulleself. Arme hy staan nie 'n kans om mee te ding teen die wat gesonder as hy is nie. Hierdie is nie 'n man wat oplossings soek nie. Hy vra nie vir hulp nie. Hy stel nie belang waarom Jesus hom die vraag vra nie. Hy stel net belang daarin om homself te verontskuldig.

Jesus sê vir hom: Staan op, neem jou bed op en loop. En dadelik het die man gesond geword en sy bed opgeneem en geloop. En daardie dag was dit sabbat.
Jesus genees die man. Die man spring op en doen wat Jesus hom beveel het om te doen. Miskien het hy dankie gesê. Daar is geen aanduiding hiervan in die teks nie. Vergelyk dit met die vorige hoofstuk waar Jesus in gesprek tree met die Samaritaanse vrou by die put. Hier was geen genesing nie. Tog was hierdie vrou so geïnspireer deur Jesus dat sy onmiddellik haar hele dorpie gaan roep het om na Jesus te kom luister. (Lees gerus die blog oor hierdie vrou se verhaal deur hierdie skakel te volg). Nie hierdie man nie. Hy is te behep met homself. Hy deel die wonder met niemand en vertel vir niemand van Jesus nie. Tot dit vir hom 'n probleem word.
Die Jode sê toe vir hom wat genees was: Dit is sabbat; dit is jou nie geoorloof om jou bed te dra nie. Hy antwoord hulle: Hy wat my gesond gemaak het, Hy het vir my gesê: Neem jou bed op en loop. Toe vra hulle hom: Wie is die man wat vir jou gesê het: Neem jou bed op en loop? Maar hy wat gesond geword het, het nie geweet wie dit was nie; want Jesus het Hom verwyder, omdat daar ’n skare op die plek was.
Wat doen hierdie man toe hy gekonfronteer word met die feit dat hy die wet breek deur op 'n Sabbat sy bed te dra, die ekwivalent van werk op die Sabbat? Hy verontskuldig homself! Dis nie sy skuld dat hy sy bed dra nie. Hy voer maar net opdragte uit. Wie se opdragte voer hy uit? Hy het nie eens genoeg belang gestel om uit te vind nie!
Daarna het Jesus hom in die tempel gekry en vir hom gesê: Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.
Kan ek weer hierdie gedeelte met die vorige hoofstuk se Samaritaanse vrou vergelyk? Sy het vyf mans gehad, en die een by wie sy was, toe Jesus met haar gepraat het, was nie haar man nie. Op geen stadium het Jesus ooit met haar gepraat oor sonde nie. Hy het ook nooit vir haar gesê om nie meer te sondig nie. Tog sê Jesus dit vir hierdie man. Uit ons menslike oogpunt, lyk dit vreemd, en ons wil beswaar aanteken. Jesus het egter iets van hierdie man se karakter geweet wat ek en jy nog nie snap nie. Jesus sê vir hom uitdruklik dat hy skuldig is, en dat hy homself nie weer moet skuldig maak aan iets nie. Dis die man wat nog nie eenkeer in die verhaal enige skuld op homself geneem het nie. Jesus maak hom attent op 'n swak plek in sy karakter. Hy gee hom ook raad om sy lewe anders in te rig. Daar is selfs 'n waarskuwing by. Die man sal die gevolge van sy eie keuses ly, as hy nie gehoorsaam is aan hierdie tweede opdrag van Jesus nie. Wie sal skuldig wees en wie sal die gevolge ly? Die man self; die een wat homself altyd verontskuldig. Wat is sy reaksie op sy tweede ontmoeting met Jesus?
Die man het gegaan en aan die Jode vertel dat dit Jesus was wat hom gesond gemaak het.
Het hierdie man gaan getuig van die wonderwerk wat Jesus in sy lewe gedoen het? Is dit waarom hy gaan verklap het wie Jesus was wat hom genees het? Ek mag dalk in die teks inlees, maar ek dink nie so nie. Hy het eenvoudig omgedraai en na sy vervolgers gaan soek om hulle in te lig waar hulle 'n ander 'skuldige' kon kry. Hy wys die vinger direk na Jesus en verontskuldig homself weereens. Hierdie man kon soveel meer by Jesus gekry het as blote genesing, maar hy kies om nie sy eie skuld te aanvaar nie. 
En hieroor het die Jode Jesus vervolg en probeer om Hom dood te maak, omdat Hy dit op die sabbat gedoen het.
Hierdie laaste vers is vir my so sprekend van Jesus se bediening op aarde. Hy het gesterf sodat ons vergifnis van ons skuld kan kry. Al wat ons moet doen, is om ons skuld te erken en dit teenoor Hom te bely. Hy onderneem om ons te vergewe wanneer ons dit doen. Hy het gesterf sodat ons vergifnis en genesing kan kry. Moenie dat jou self-verontskuldiging in die pad staan van jou eie ontmoeting met Jesus nie. Hoeveel waarde kan jy put uit 'n ontmoeting met Jesus? Soek jy slegs genesing, of sal jy Hom toelaat om ook vir jou vergifnis, en die ewige lewe te gee? Erken jou skuld. Hy is getrou en regverdig om te vergewe. Vertou Hom.
Die Samaritaanse vrou: Johannes 4



Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy my books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
You may prefer to follow the traveling blog, A Pretty Tourist.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to any of these blogs to receive regular updates by email, by simply registering your email address at the top of the applicable blog.

No comments:

Post a Comment