Search This Blog

Monday 6 March 2017

'n Gravity defying verhouding met God


Ek loop gister deur die tuin en soek na die eerste vroeë perskes aan die boom. Daar is baie vrugtebome in die tuin, maar nog net die een perskeboom se perskes lewer so elke tweede dag 'n perske of wat op wat ryp genoeg is om gepluk te word. Die moerbeiboom staan darem al vol pers vrugte en strooi sy vrugte op die grond, maar die res is almal nog groen en kliphard. Dis 'n tuin vol belofte vir 'n goeie vrugte-seisoen, want die takke hang almal swaar af grond toe en kreun letterlik onder die gewig van die vrugte. Party sal kort voor lank gestut moet word.
Verlede seisoen het met net soveel belofte begin, maar toe kry ons twee vernietigende haelbuie wat binne oomblikke die vrugte, die bloeisels, en die blare afsny en op die grond strooi. Die paar wat aan die bome oorgebly het, was so beskadig dat hulle ook maar uiteindelik weggegooi moes word, omdat hulle sommer aan die bome vrot geword het lank voor hulle ryp was.
Dit was baie tragies om te sien, want ek het op 'n plaas grootgeword en daardie konsep van inkomste wat verbonde is aan die opbrengs van die grond, is nog diep by my ingekerf. So tragies as wat dit was, kan dit nie vergelyk word met die impak wat so 'n haelstorm se skade op 'n boer het nie. So land ek en 'n vriendin verlede jaar op 'n druiweplaas in die Karoo, langs die Oranjerivier, die dag nadat hulle deur swart ryp getref was. Daar was by my geen twyfel dat hulle skade groter was as ons s'n nie.
Maar alles in die lewe is relatief, want selfs hulle het 'n herstelkans gehad. Die oes was verseker teen die weer en uiteindelik sou hulle nie die volle verlies hoef te ly nie.
Hierdie luukse het nie bestaan in die tyd van Habakkuk nie. Ek herinner jou gou aan 'n bekende versie in Habakkuk 3:17, wat ons gereeld sing ook:
"Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, ..."
Weet jy waarvan praat Habakkuk hier? Hy praat van 'n verlies van alle inkomste. Kom ek vertaal vrylik na 'n moderne scenario (met respek):
Al sou ek my werk verloor en vind dat my kredietkaarte uitge-max is, al sou my pensioenfonds in duie stort en my versekering 'n skuiwergat vind om nie uit te betaal nie, al sou my bankkaart gekloon word en my rekening leeggemaak word, al sou my belegger my verneuk en met al my geld wegloop, al sou ...
Wat sê Habakkuk in vers 18?
"... nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder."
Daar is nie 'n moderne scenario vir hierdie vers nie. Dit is wat dit is. Ten spyte van alles wat verkeerd gaan, sal ek juig in God. Ek sal blydskap vind in God. Ek sal uitbundig JUBEL! Waarom? Want daar is hoop. Ek ken nie net 'n god nie, ek ken 'n God, en ek ken Hom as Redder.
Ken jy God as jou Redder? Joune, nie iemand anders s'n nie. Ken jy Hom as Redder van jou finansies? Of dink jy dalk dat God en finansies niks met mekaar te doen het nie. Godsdiens is goed vir filosofie, maar die finansiële wêreld is hard en sonder ruimte vir ideale. Ek wil jou uitdaag om God in beheer van jou finansies te plaas. Vertrou Hom. Sommer vandag al terwyl alles goed gaan. Dan is jy lekker geoefen in die saak die dag wanneer dinge inmekaartuimel.
Dan kom jy dalk by vers 19 uit:
"Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos diè van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop."
Het jy al 'n foto van 'n ribbok of bergbok gesien wat teen 'n loodregte krans of damwal oploop, waar mens geen vashouplek kan sien nie, met kloutjies wat swakker daarvoor aangepas is as selfs 'n mens se hande en voete? Kan jy God vertrou om jou toe te rus om die oënskynlik onmoontlike te bowe te kom? Kom ek wens jou iets in Engels toe, want my vertaal-vermoëns faal my skielik: I wish you a gravity defying relationship with God.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment