Search This Blog

Sunday 15 January 2017

Hoe is jy bekend?


Wanneer 'n mens ernstig skryf, dan leer jy heel vroeg in die proses dat jy enige nuwe skryfwerk met 'n inleidende paragraaf of hoofstuk begin. Die doel hiervan is om die lesers bekend te stel aan die karakters, omgewing en tyd van die verhaal. So betree ek toe vanoggend die verhaal wat in die boek Johannes vertel word en vind myself netjies in die eerste hoofstuk, waar ek telkens gekonfronteer word met bekendstellings. Ek kon nie anders as om selfondersoek in te stel na my eie identiteit nie. Maar ek loop myself vooruit. Kom, dat ek jou saam met my neem op hierdie bekendstellingstog.
Die openingsverse van die boek is moontlik een van die bekendste gedeeltes in die Bybel. Dit is 'n bekendstelling aan Jesus as die Seun van God, as Skepper, as Woord, as Lig, as Waarheid, as Lewe. Wat 'n bekendstelling! In 'n paar kort woorde word Jesus bekendgestel as die verwagte Messias, wat moet kom, maar ook die Een wat alles en almal vooruitgegaan het. In Hom is die profete vervul en van Hom kan groot dinge verwag word. Moontlik is ons al so bekend met die gedeelte dat dit sy trefkrag verloor het? Stel jouself voor dat jy hierdie woorde vir die eerste keer lees, in 'n tyd waar Jesus se lewensverhaal nog nie so ingesetel is as wat dit vandag vir ons is nie. Kan jy jouself die impak van hierdie bekendstelling voorstel? As ek, as skrywer, krities na hierdie eerste verse kyk, kan ek nie anders as om my te verwonder aan die meesterlike tegniek wat die skrywer gebruik het nie! Hy sou my aandag oombliklik vasgevang het. Ek sou nie die boek kon neersit nie. Ek sou nie kon wag om die volgende bladsy te lees nie. As ek gewonder het oor die identiteit van die Man wat die omgewing aan die gons gehad het, sou  ek klinkklaar geweet het dat ek hier met 'n outoritêre werk te doen het.
Na hierdie bekendstelling, word ons aan Johannes bekendgestel. Om na Johannes se bekendstelling te kyk, is soos om in 'n spieël te kyk. Dit is nie vir Johannes wat ons sien nie. Ons leer weinig oor hom. In die bekendstelling van Johannes, sien ons 'n refleksie van Jesus, en leer ons meer van Hom, eerder as van Johannes self. Kundig, lig die skrywer ons in dat Johannes se doel was om Jesus bekend te stel aan die mense. Kundig, gebruik hy sy woorde so dat Johannes in die agtergrond verdwyn en die kollig op Jesus gefokus bly. Wat 'n vernuftige skrywerstalent!
By Johannes leer ons soeveel meer van Jesus ken. Ons leer dat Hy oorvloedige genade betoon. Ons leer van Sy Goddelikheid, van Sy uniekheid, van Sy plek teenoor die wet, en soveel meer. Erens tussen al hierdie dinge leer ons ook dat ons self uit God gebore kan word en die reg verkry om kinders van God genoem te word.
Dink wat dit beteken. Dit beteken, in menslike terme, dat jou identiteit verander. Jou van word tradisioneel aan jou pa se identiteit gekoppel. As jy nou 'n nuwe Vader het, het jy ook 'n nuwe identiteit! Hierdie identiteit is in Christus gevestig, want dit is Hy wat vir jou die reg bewerkstellig het om kind van God genoem te word. Die titel van hierdie skrywe is 'hoe is jy bekend?' Aan wie herken mense jou?
'n Mens hoor so dikwels van families se reputasie. Party loop en spog met hoe reguit hulle is. By ander kies mense hulle woorde versigtig, omdat hulle so kort van draad is. Nog ander het die reputasie dat hulle nie te vertrou is in finansiële sake nie. Daar is talle voorbeelde. Die punt is, dat wanneer jy 'n nuwe identiteit in Christus het, verander jou familie se 'reputasie' ook. Elke nuwe geslag bevestig die reputasie van die voorafgaande geslag, of hulle breek dit stukkie vir stukkie af. Wat my opnuut die vraag laat vra: Hoe is jy bekend?
In die volgende gedeelte van die hoofstuk, word 'n ondersoekspan na Johannes gestuur om sy identiteit vas te stel. Eers word ons sekuur ingelig oor wie hy NIE is nie. Dan word ons ingelig dat wie hy is, ondergeskik is aan wat hy gekom het om te doen. Sy roeping oorskadu sy identiteit. Daarna word sy taak (doop) bevraagteken. Weereens antwoord hy deur die kollig op Jesus se identiteit te laat val. Hierdie keer leer ons van Jesus se koninglike majesteit.
'Die volgende dag' leer ons dat Jesus die Lam van God is. Dit beteken Hy is die laaste Lam wat geoffer sal word vir die vergifnis van sonde. Ons leer ook dat Jesus se identiteit bevestig is deur die Heilige Gees doop wat Hy ontvang het, maar ook ander mee doop. Die Heilige Gees is dus self bevestiging van Jesus se identiteit, maar ook jou en my identiteit in Christus.
In die laaste gedeelte word die eerste van Jesus se dissipels geroep. Ons sien dat die eerste dissipels kies om Jesus te volg op grond van Johannes se getuienis oor Hom. Jesus nooi hulle dan saam om die middag aan huis in sy teenwoordigheid deur te bring. Kan jy jou dit voorstel? Een van hierdie ouens is Andreas, die broer van Petrus. Tog word hy nie as Petrus aan ons bekend gestel nie. Ons leer hom ken as Simon. Dis eers wanneer Andreas hom aan Jesus voorstel, dat hy die naam Petrus (of Sefas) kry. Petrus kry 'n nuwe identiteit in Christus. Hy kry 'n roeping, 'n doel, 'n nuwe reputasie.
'Die volgende dag' roep Jesus vir Filippus as dissipel en Filippus roep op sy beurt weer vir Natanael om Jesus te kom ontmoet.
Wanneer Natanael Jesus ontmoet is hy skepties om mee te begin. Tog is dit heel gou duidelik dat Jesus hom ken. Was jy al in geprek met iemand wat jou dinge van jouself kan vertel, maar jy kan net nie plaas waar jy hulle vandaan ken nie? Dis min of meer hoe Natanael moes gevoel het. So, hoe ken Jesus vir Natanael? As 'n man sonder bedrog. Sy reputasie is die van 'n eerlike man, wat die waarheid praat, wat vertrou kan word, geglo kan word, op peil getrek kan word.
Dis hier waar ek besef het dat ek nodig het om selfondersoek te doen na my eie reputasie. Hoe is ek bekend? Ken mense my aan my identiteit in Christus, of ken hulle my aan my aardse pa se familienaam? Meer nog as hoe mense my ken, is die belangrike vraag: Hoe is ek bekend aan Jesus?
Laat my nou toe om jou dieselfde vraag te vra. Hoe is jy bekend?

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment