Search This Blog

Sunday 11 December 2016

Pienk pleisters vir die siel


Ek wil gou 'n gedagte met jou deel oor pienk pleisters. Dis mos nou daai fraai pleisters wat mens deesdae kry om op 'n klein dogtertjie se seerplek te plak. Dit doen niks aan die seer nie, maar troos net die gemoed en binne oomblikke droog die trane op en begin die speel weer in alle erns.
Ek is van mening dat ons sulke pienk pleisters in die Bybel ook kry. Weet jy waarvan ek praat? Dis daai teksversies wat ons vernuftig uitpluk vir elke denkbare gebeurtenis. Dit het al so deel van ons alledaagse lewe geword dat ons partymaal nie eens meer daaraan dink dat dit uit die Bybel kom nie. Ek wil vandag oor een van hierdie pienk pleisters uit die Bybel praat. Dit is 'n gedeelte wat so gereeld aangehaal word, dat daar bykans nie 'n week verbygaan waar iemand dit nie op Facebook of elders share nie. Partykeer loop ek dit selfs meermale op dieselfde dag raak. Die gedeelte waarvan ek praat is die alombekende aanhaling uit Jeremia 29:11
"Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!"
Die ESV lees so:
"For I know the plans I have for you, declares the Lord, plans for welfare and not for evil, to give you a future and a hope."
Dis geen wonder dat hierdie versie populêr geword het nie. Wie wil nie hierdie woorde hoor nie. Stel jouself voor jy staan voor 'n multi-miljoenêr, wat boonop ook uiters invloedryk is. Hy het nou net vir jou vertel dat hy aan jou dink as 'n eie kind. Net daarna sê hy vir jou hierdie woorde:" Ek weet wat ek vir jou beplan; voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir jou 'n toekoms gee waarna jy met verwagting kan uitsien."
Jy moet anders bedraad wees as ek om nie van opgewondenheid te tintel en te bruis nie. Lank voor hy by die woord verwagting uitkom, het my kop reeds vlerke gekry en op baie mooi plekke gaan kuier.
Maar nou is dit nie 'n mens wat dit sê nie. Dit is God wat dit vir sy volk sê deur die mond van sy profeet, Jeremia. Ons het nodig om hierdie gedeelte mooi onder oë te neem om te besef wat werklik daar staan. Jy sien hierdie is nie regtig pienk pleisters nie. Hierdie is meer soos 'n taai pleister wat die vermoë het om 'n gapende wond bymekaar te trek sodat genesing kan plaasvind. Kom ek verduidelik.
In hierdie gedeelte praat God oor die feit dat die volk weggevoer gaan word in ballingskap. Hy deel hulle mee dat daar vals profete gaan opstaan wat hulle 'n vals hoop gaan gee dat hulle vinnig sal terugkeer na hulle eie land. Hy raai hulle aan om te plant en huise te bou en gesinne te begin, want hulle gaan lank in ballingskap bly. Daar is dus nie 'n skrapie wat skaars bloei nie. Hier het ons met 'n gapende wond te doen wat ons laat wonder of dit nie nodig is vir steke nie.
Dis wanneer God dan hierdie taai pleister uithaal en op die wond sit. Hy praat van herstel van 'n gebroke verhouding. Hy praat oor mense wie se geloof in God herstel word. Hy vertel hoe mense hulle tot Hom sal wend in gebed, na Sy wil vra met hulle hele hart. En hy praat oor gebede wat beantwoord sal word en dat Sy wil bekend sal wees.
Ons is so geneig om te dink dat ons lewens geen probleme behoort op te lewer nie, want God het mos hierdie woorde vir ons laat neerpen in die Bybel. Dis raadsaam om te besef dat hierdie woorde volg op die verlossing wat noodwendig volg aan die einde van swaarkry.
Ek wil hê jy moet vanaand moed skep. Wees getroos. Leef met 'n verwagting. God het vir jou 'n toekoms van voorspoed in gedagte. En Hy heg dit aan jou vas met taai pleisters, nie slegs pienk pleisters wat mooi val op die ore nie. Hierdie pleisters het substans.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment