Search This Blog

Friday 2 December 2016

O, koek!


Iemand praat nou die dag oor 'n verjaardagkoek wat hy gekry het. Dit was pragtig en het wonderlik lekker gelyk, maar toe hy dit proe was dit glad nie wat hy verwag het nie. Die koek was droog en smaakloos en geen plesier om te eet nie. Dit het tot die bakker in my gespreek. Ek wou onmiddellik die probleem gaan regstel en vir hom 'n lekker koek bak vir sy verjaarsdag. Die probleem was dat sy verjaarsdag alreeds verby was en dit was te laat. Dis toe dat my kop weer sy eie koers inslaan en begin dink oor die koek wat ons vir mekaar is in die lewe.
Ek het 'n vriendin wat baie liberaal glo oor god en haarself oortuig het dat god dan ook God insluit. Vreemd genoeg laat al haar liberalisme geen ruimte vir gesprekke oor God, die Bybel, gebed (in die Christelike verstaan daarvan), of Christenskap in die algemeen nie. Dieselfde reëls geld nie vir enige ander gelowe nie. Sy is oop vir insette van enige ander kant. Ek is baie lief vir hierdie vriendin en geniet haar geselskap terdeë. Tog is ek opreg bekommerd oor haar ewige lewe. Meer as dit. Ek is bekommerd oor haar lewe hier op aarde. Ek kan sien hoe die keuses wat sy maak, 'n negatiewe impak op haar lewe het.
Maar ek wil nie van die punt afdwaal nie. Ek wil 'n aanknopingspunt vind by iets wat sy eenmaal gesê het. 'n Ander vriendin wat ons in gemeen het, het deur 'n ligte emosionele trauma gegaan. Hierdie vriendin is 'n uitgesproke en uitverkoopte Christen wat haar lewe en haar besluite deur die Bybel en haar verhouding met God laat rig. Toe Vriendin A hoor van Vriendin B se probleme, was haar reaksie een van verbasing. In haar opinie moes vriendin B "al die antwoorde hê" (direkte aanhaling), omdat sy 'n Christen is.
(Sommer as 'n aweregse gedagte, wat niks met die gesprek te doen het nie, vra ek myself af waarom iemand wat glo dat al die antwoorde in God te vind is, dan kies om Hom nie te glo en te dien op Sy terme nie, maar Hom eerder verwerp en kies om in ander 'godsdienste' ens te gaan soek vir antwoorde? Ek wonder maar net.)
Maar om terug te kom by die punt. Enige Christen kan jou vertel dat jou Christenskap geen waarborg is dat swaarkry en moeilike tye nie deel van jou lewe sal wees nie. Die Bybel loop oor van gelowiges wat deur moeilike tye gegaan het. Ek wil nou nie 'n gesprek hieroor voer nie, en gaan baie simplisties sê dat swaarkry nodig is vir groei. Dit is te eenvoudig, maar ons kan op 'n ander dag hierdie gesprek deurtrap. Vir nou wil ek uitkom by die feit dat ons nie al die antwoorde het nie. 1 Korintiërs 13:12 sê duidelik:
"Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken."
Wat het dit alles met die koek te doen? Die feit dat so baie mense onder die indruk verkeer dat jy al die antwoorde moet hê as jy 'n Christen is. So baie mense dink dat jy skielik onfeilbaar moet wees. Om in te pas in die sosiale kringe, word daar skielik nuwe terme en woorde in gesprekke ingevoer. Ons maak klanke om mense te bevredig. Die waarheid is dat ons 'n "work in progress" is. Ons is nie God nie. Ons kan nie God vir enige iemand wees nie. Ons kan vir jou van Hom vertel, want ons het Hom persoonlik ontmoet. Ons kan jou nie alles oor Hom vertel nie, want ons groei nog daagliks in ons verhouding en ons kennis van Hom. Die koek wat ons na jou uithou, mag dalk nie baie mooi wees nie en kan selfs half grillerig lyk, maar dit is omdat dit deur onkundige kinderhande gemaak is en ons is nog besig om te leer. Soms klink dit asof ons oordryf in ons opgewondenheid om jou van God te vertel. Dis soos die koek in die foto hieronder. Dis deur 'n voorskoolse dogtertjie versier vir haar ouma. Sy was so opgewonde om al die goed te ontdek waarmee 'n koek versier kon word, dat sy uiteindelik omtrent alles op die koek uitgegooi het. Dis daardie selfde opgewondenheid wat ons as Christene ook dryf. Ek weet die wêreld interpreteer dit graag as disrespek, maar ek wil hê jy moet dit van nader gaan bekyk en sien vir wat dit werklik is. En tref asb. onderskeid.


Daar is Christene daarbuite wat hulleself voordoen as die ware Jakob. Hulle praat mooi woorde en kom met wonerlike stories en getuienisse vorendag. Tog is hulle sonder substans en laat hulle 'n spoor van verwoesting agter hulle. Hulle is soos die sjokoladekoek hierbo wat ek vir my broer gebak het 'n paar jaar gelede. Dit lyk wonderlik. 'n Trippel-laag sjokoladekoek met karamel vulsel. Drie variasies Kit-Kat reg rondom en Bullets en Whispers bo-oor. Dis 'n droomkoek. Behalwe dat dit heeltemal oneetbaar was. Dit was letterlik te soet. Party mense se woorde klink mooi en hulle lewens lyk mooi, maar hulle kan nie die toets van smaak deurstaan nie.
Ander lyk dalk nie so mooi nie en dis maklik om hulle foute uit te wys, maar moet nie hulle opregtheid in twyfel trek nie. Die feit dat hulle faalbaar is, maak nie hulle boodskap onwaar nie.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment