Search This Blog

Tuesday 6 December 2016

Is jou verhoudings besig om te faal?


Ek word vanoggend wakker met hierdie lied wat deur my kop woel en ek wil dit graag met julle deel, want dit sluit so gepas aan by iets wat al van Sondag af in my kop rondrol. Die gedagtes waarmee ek sit gaan almal rondom verhoudings met een groot pertinente vraag wat bo alles uitstaan: "Is jou verhoudings besig om te faal?"
Daar is 'n term wat vandag baie algemeen gebruik word en dit is 'deal breaker'. Elke verhouding het 'n deal breaker. Dit is omdat ons reëls en regulasies in ons verhoudings het. Ek wil amper die woord noodwendig hier gebruik, want ek kan nie dink dat dit moontlik is om 'n verhouding te hê waarin daar nie 'n deal breaker is nie. Ons is baie lief om die term 'onvoorwaardelike liefde' te gebruik, maar ek wil hê jy moet vanoggend saam met my besin oor hierdie emosie. Alle verhoudings het voorwaardes. Ek dink daar is nie 'n enkele ouer wat nie nou hier diep in sy/haar binneste protesteer nie. Ek hoop in elk geval so, want ons liefde vir ons kinders behoort so na aan onvoorwaardelik te wees as wat menslik moontlik is. Tog is daar voorwaardes aan die verhouding.
Let nou mooi op hoe ek tussen die twee woorde 'liefde' en 'verhouding' spring. Ek glo wel dat mens kan liefwees verby voorwaardes. Dit is waarom ons so seer kry in verhoudings. 'n Verhouding kan die deal breaker punt bereik lank voordat liefde opgehou bestaan.
Ek moet myself nou telkens keer dat ek nie voorbeelde gebruik nie. Ek kan hierdie skrywe baie emosioneel maak deur allerhande voorbeelde in te trek, maar ek wil eintlik hê jy moet dink oor die verhoudings in jou eie lewe. Miskien was jy al in 'n liefdesverhouding en/of huwelik wat skeefgeloop het, waar een (of beide) van julle daai ding gedoen het wat die deal breaker was vir julle verhouding. Dalk het jy 'n kind êrens wat jy nooit meer sien nie, want julle verhouding het ook by so 'n punt uitgekom. Moontlik het jy 'n broer of suster, of 'n vriend of vriendin wat nie meer in jou lewe is nie, omdat een of beide van julle daardie tree te ver gegee het, en oor die streep getrap het wat perke aan julle verhouding verskaf het.
As ek nou geglo het in pienk pleisters vir die siel, het ek nou my skrywe klaargemaak deur iets te sê soos God het jou onvoorwaardelik lief en Hy sal jou nie faal nie, al laat mense jou in die steek. Dit is nie wat ek wil sê nie. Laat ek dit net eers duidelik maak: DIT IS WAAR. God het jou onvoorwaardelik lief en Hy sal jou nie faal nie. Tog wil ek iets meer sê as net dit.
Jy sien, ek wil jou maan om versigtig te wees in jou verhoudings met mense. Met versigtig bedoel ek dat jy dit moet oppas, tyd daaraan moet spandeer, moet dink voor jy praat of doen, moeite moet doen om die ander se belange in ag te neem. As jy dit doen, staan jy 'n groter kans dat jou verhoudings mag slaag. Dis steeds nie 'n gegewe nie, maar dit maak die kanse beter. Waarom is dit nie 'n gegewe nie? Omdat mense faalbaar is. Soms kan jy alles reg doen in 'n verhouding, maar as die ander party nie saamwerk nie, gaan die verhouding steeds faal.
En dit bring my uit by wat ek met jou wil deel oor in 'n verhouding met God staan. Toe God 'n verhouding met die mensdom begin het, het Hy sekere riglyne neergelê. Kom ons noem hulle deal breakers. Vir Adam en Eva het Hy gesê hulle moenie van die boom eet wat hulle kennis sou gee van wat goed is en wat kwaad is nie.
Vir Moses het Hy 'n stel wette gegee met metodes om dit te onthou, sodat dit makliker sou wees om dit na te kom; skryf dit aan die deurposte, leer dit in 'n lied ens.
Vir die eerste dissipels en vir ons wat in die tyd van die Nuwe Testament leef, het Hy gesê dat ons in Christus moet glo, Hom moet aanneem, ons bekeer van ons sondes en Hom moet volg. Dis ons voorwaardes vir 'n verhouding met God.
Glo jy in Christus? Tien teen een, as jy sover gelees het. Het jy Hom aangeneem? Moeilike vraag? Dit beteken dat jy nou deel is van God se 'huishouding'. Mensliker wys kan ek dit vergelyk met 'n kind wat in die huis ingeneem word. Of ek kan dit vergelyk met 'n huwelik, en ek dink die tweede vergelyking is dalk nader aan die waarheid, alhoewel ek slegs kan bespiegel. Dis soos om jou voor te stel dat Jesus van jou die 'ja-woord' gevra het (die Bybel noem die gelowiges die Bruid en Jesus die Bruidegom). Jy het positief gereageer en is nou deel van die Goddelike 'huishouding'. Jy het Jesus aangeneem.
Tot op hierdie punt is alles mooi en goed en rooskleurig. Nou raak dit taai. Die volgende vrae is of jy jou van jou sondes bekeer het, en of jy Hom volg? Hierdie is die deal breakers in 'n verhouding met God. Daar is talle mense wat in God glo, maar hulle vind dit moeilik om te sê of te glo dat hulle in 'n verhouding met God staan. Hulle kan nie die lied saamsing wat ek aangeheg het nie, want hulle weet nie wat dit beteken om te sê ek is 'n vriend van God nie. Dit is nie omdat hulle nie in 'n verhouding met God staan nie. Dis omdat hulle in 'n gebroke verhouding met God staan. As jy die dinge doen wat God haat, het jy die verhouding verbreek. Dit beteken nie dat God jou nie meer liefhet nie, want Hy het. Dit beteken nie dat Hy jou nie sal vergewe nie, want Hy sal. Dit beteken slegs dat jy nodig het om jou verhouding met God te herstel.
Die Bybel gebruik graag die term egbreuk (en selfs hoerery) om hierdie gebroke verhouding van die mens met God te beskryf. As jy jou sonde meer liefhet as vir God, gaan die verhouding gebroke bly. Daar is nie plek vir 'n ander 'lover' of 'skelmpie' in jou verhouding met God nie. Nie as jy wil hê dit moet 'n gesonde verhouding wees nie. Laat staan jou sonde. Hou op daarmee. Dis wat bekering beteken. Jy kan telkens tot bekering kom in jou lewe, maar jy word slegs eenmaal wedergebore. Verstaan jy? Jy moet jou voete was. Jy is reeds skoongewas en aangeneem in God se huishouding met jou wedergeboorte en doop. Nou moet jy net voete was en weer skoon kom.
In die tyd van die Bybel, moes mense hulle skoene uittrek en hulle voete was om by 'n huis ingenooi te word. Dit was slegs 'n kulturele gebruik wat uit praktiese gebruik gespruit het, omdat mense op stofpaaie geloop het. Het jy op stofpaaie gaan dwaal en jy staan nou buite die deur van jou Vriend, maar jy voel onwelkom omdat jou voete vuil geword het van die paaie waarop jy geloop het? Jesus was eeue gelede bereid om sy dissipels se voete te was en Hy wil dit vandag vir jou ook doen. Moenie langer uitstel om herstel aan jou verhouding met God te bring nie. Hy wag al baie lank geduldig vir jou.
En dan? Dan volg jy Hom. Jy doen wat Hy wil, gaan waar Hy gaan en doen dinge soos Hy dit bepaal. Dis die voorwaarde vir 'n gesonde verhouding met God wat jou onvoorwaardelik liefhet.

Luister gerus na hierdie lied:
I am a friend of Jesus

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment