Search This Blog

Friday 9 December 2016

Getrou in die klein dingetjies


Daar is soveel klein goedjies wat ons elke dag doen, wat vir ons geen betekenis inhou nie, maar wat op iemand anders 'n lewensveranderende impak het. Ek het dit vandag nou weereens beleef. Vanoggend deel iemand 'n post oor 'n vermiste kind wat laas in die geselskap van 'n spesifieke man gesien is. Die man se naam en foto verskyn ook op die poster. Ek wik en weeg vir 'n oomblik of ek dit gaan share of nie, want ek hou nie daarvan om negatiewe goed te deel nie. Toe plaas ek myself in die ouers se skoene en ek dink dat as dit my kind was, sou ek wou hê almal moet dit deel. Ek maak toe so. Nie lank daarna nie, reageer een van my Facebook vriende en sê dat die man 'n eertydse pasient was waar sy werk. Ek vra toe of sy dalk sy kontakdetail aan die polisie kon deurgee en sy doen dit toe. Ek het nie veel hoop gehad nie, want mense se detail verander soms vinnig. So 'n ruk terug het die polisie haar laat weet dat hulle hom opgespoor het en dat die kind veilig is. Ek prys die Here dat daar 'n ketting van mense was wat elkeen getrou hulle eie deeltjie gedoen het en dit moontlik gemaak het dat hierdie kind opgespoor is! Daar is nie een enkele held/heldin nie, maar eerder 'n klomp mense wat elkeen iets oënskynliks onbenulligs gedoen het en die kulminasie van al die klein dingetjies het lewens verander.
Onthou julle die gelykenis van die man wat op reis gegaan het en vir tien van sy slawe elkeen 'n hoeveelheid munte gegee het om oor verantwoording te doen? Lees gerus Lukas 19 as jy jou geheue wil verfris. Almal het nie dieselfde opbrengs gehad om te toon nie, maar elkeen wat 'n wins kon wys, het 'n beloning gekry van groter verantwoordelikheid. Die laaste het besluit om niks te doen met wat hy gekry het nie. Hy het slegs teruggegee wat hy in die eerste plek ontvang het. Maar toe hy dit teruggee, toe gee hy dit nog met 'n selfverontskuldigende verwyt ook. Klink dit nie bekend nie?
Interessant genoeg, lees mense selde raak dat dit nie die waarheid was nie. Wat is die nuut-aangestelde koning se reaksie? As dit die waarheid was, sou jy anders opgetree het! Het jy vers 14 gelees wat sê dat hulle nie die man as koning wou hê nie? Dit was dus nie net ongehoorsaamheid nie, maar 'n verwerping van sy meester se gesag.
Laat ek jou nou die vraag vra: Is jy getrou in die klein dingetjies wat aan jou toevertrou is? Dit lyk anders in elkeen van ons se lewens.
Kom ek vertel jou nog 'n verhaal uit my studente-dae. Met een verjaarsdag het 'n vriendin vir my 'n plakaat gegee van 'n groot hand wat uit die lug kom. Die hand het die toue van 'n swaai vasgehou en 'n dogtertjie het sorgeloos op die swaai gesit met haar hare wat in die wind waai. Prentjies het nog altyd tot my gespreek en ek kon nie help om waardering vir hierdie te hê nie. Tog was ek nog nooit lief vir posters nie. Ten spyte daarvan het ek gevoel dat ek hierdie poster teen my muur moes opsit en ek het dit gedoen.
'n Jaar of wat later, trek daar 'n nuwe student op die gang/vloer in en sy kry die kamer reg langs myne. Sy was Goth in die dae toe Goth nog onbekend was en lank voor dit mode geword het. Sy het vreemd gepas op die gang. Haar ouers het om die draai gebly en die enigste rede waarom sy in die koshuis was, was omdat sy dit nie meer by die huis kon uithou nie. Ons het probeer vriende maak, maar sy het haarself eenkant gehou en elke hand van toenadering weggestamp. As jy aan haar deur klop, het sy in die opening bly staan en jou nooit ingenooi nie.
Tot my verbasing, neem sy eendag my uitnodiging om te kom koffie drink aan en so kom sy vir die eerste keer in my kamer. Sy het lank na die poster met die swaai gestaan en kyk sonder om 'n woord te sê. Dis eers toe ek 'n paar dae later na haar kamer genooi is, dat ek verstaan het. Teen die muur was een van haar eie kunswerke. Hier was ook 'n groot hand wat uit die lug gekom het, maar die hand was in 'n vuis gebal en 'n jong meisie het met mag en mening gebeur om uit die greep te ontsnap. Die datum op die skets het getoon dat dit lankal terug geteken was.
Ek weet nie wat van haar geword het nie. Ek wens ek het 'n storie van bekering gehad, maar ek ken nie daai deel van die verhaal nie. Die deel wat ek ken, is van iemand wat getrou was om 'n poster te gee as geskenk en iemand anders wat getrou was om dit op te sit. Maar die belangrikste wat ek ken is die deel van die verhaal waar God geweet het in watter taal om met haar te praat. Dit was 'n taal wat verby woorde gestrek het.
Laat ek weer vra: Is jy getrou in die klein dingetjies?
Maak jou ore oop en doen wat jou hand vind om te doen, want dit alles is in voorbereiding vir die groot goed waarmee God jou wil vertrou.
Moenie eendag voor God staan met selfverontskuldigende verwyte nie. Aanvaar God se koningskap in jou lewe en doen wat Hy van jou verwag.
"Ek sê vir julle: 'Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek hulle koning moet wees nie, bring hulle en maak hulle hier voor my dood!'"
Vriendskap met die wêreld is vyandskap met God. Wees getrou in die kleine. Lê jou eiebelang voor God neer. Tel op jou kruis en volg Hom.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment