Search This Blog

Thursday 1 December 2016

Die Leeu van Juda aan 'n leiband?


Sit ek toe mos nou weer vanoggend in die kerk toe drie aparte beelde my opval. Die eerste was van 'n klein seuntjie in sy pa se arms, sy lyfie sorgeloos agteroor gegooi en die mondjie oop in 'n lekker skaterlag (gelukkig was die musiek te luid om die geluid steurend te maak). Die tweede was die pastoorsvrou wat haar gebruiklike gedagte vir die week saam met die afkondigings gedeel het. Vanoggend het sy die fraaiste kartondoos in haar hande gehou. Die is blykbaar normaalweg op haar lessenaar. Dan skryf sy alles neer wat haar padlangs kom en te veel is vir haar om te hanteer. Dit word dan in die boksie gegooi en vir God gegee om te hanteer. Later kan sy dan teruggaan en sien hoe God haar gebede beantwoord het. Die laaste was van nog 'n klein seuntjie wat 'n paar banke voor my gesit het. Hy het 'n sagte speelding gehad wat hom besig gehou het. Dit was 'n leeumannetjie wat aan 'n leiband vas was. Op een of ander manier het hy die leiband in die gleufie, bedoel vir Bybels en sangboekies, vasgewikkel gekry en nou kon hy hom nie weer loskry nie. Hy het alles probeer om die te groot leeu deur die gleufie te dwing, maar niks wou deug nie. Uiteindelik het sy gewoel sy ma se aandag getrek en sy het geirriteerd die leisel uit sy hand geruk en dit deur die geluf getrek tot die speelding weer los was.
En dis toe wat ek begin dink. Maak ons nie ook baiemaal so met God nie? Ons sien Hom as Iemand wat ons met 'n leiband kan beheer. Ons skep natuurlik ons eie leibande. Party van ons rig vir ons 'n stel reëls op waarvolgens ons en alle ander Christene moet leef en dan glo ons God moet spring op versoek. Ander van ons wikkel onsself toe in 'n kombers van geestelikheid waarbinne ons geborgenheid vind. Dan jaag ons sekere predikers en skrywers na met passie, terwyl ons ander verdoem tot gesante van Satan. En met dit alles is ons eintlik maar net besig om 'n handvatsel te maak waarmee ons 'n houvas kan kry op godsdiens en uiteindelik ook op God. M.a.w. nog 'n leiband. Dan is daar die rassioneles onder ons wat alles netjies kategoriseer in teorieë en teologieë. Kompak hanteerbaar. Ek kan lank so aanhou, want die 'oplossings' is so menigvuldig as die mensdom self. So laat ek eerder stop. Julle kry die idee.
Die pastoorsvrou het haar rede vandag begin met 'n oproep om nederig te wees. Sy het nie uitgebrei daarop nie, maar ek het gesnap wat sy bedoel. Dis verwaand om te dink dat jy al die antwoorde en oplossings het. Dis verwaand om te glo dat God moet doen soos jy verwag, omdat jy sekere bepalings nagekom het in 'n verdrag waar jy die riglyne neergelê het. Dis verwaand om God te blameer wanneer dinge verkeerd gaan terwyl jy nooit die leisels wou laat gaan nie.
Ek wil jou vandag aanmoedig om die leisels te laat los. Jou gestoei om die leeumannetjie deur die gleufie te trek gaan nie slaag nie. Die feit van die saak is dat as jy 'n god aan 'n leiband het, het jy nie die ware God beet nie, maar slegs 'n afbeelding van Hom. Net so min as wat jy 'n maanhaar aan 'n leiband gaan lei, net so min kan jy God met 'n leiband beheer.
Kry vir jou so 'n kartondosie, lettelik of figuurlik. Los jou probleme daarin. Stel jou eie wil, idees en planne ondergeskik aan God en laat Hom toe om in krag en waarheid in jou lewe te werk.
En dan kan jy soos daai klein seuntjie in sy pa se arms, jou lyfie agteroor gooi in sorgelose vreugde en uitbundig lag, want jy het God vertrou met jou laste.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment