Search This Blog

Sunday 20 November 2016

Laslappie-godsdiens


Tyd om die winterspajamas uit te pak. So het ek 'n geliefde stel pajamas in die kas wat net soveel lekkerder dra as enige van die ander. So met die uitpak onthou ek dat die broek nou al dun geskaaf is tussen die bene. Tyd om daarvan ontslae te raak? Sekerlik, maar my lyf is verknog aan die gemak en ek is traag om te erken wat ek verlede seisoen al geweet het. So besluit ek toe om die slaapklere se lewe langer te rek en ek sleep my naaimasjien uit die kas. Naaldwerk kan ek doen, en ek het groot planne met die broek.
Ek vind ‘n stuk lap wat mooi sal pas by die materiaal waaruit die slaapklere gemaak is. Dis nou nie heeltemal so sag as die oorspronklike lap nie, maar mens moet maar bereid wees om kompromieë aan te gaan. Ek sprei die broek op die lap oop en voel hoe spyt my oorval toe ek sien hoe ‘n groot hap ek uit die lap sal moet sny. Dis ook so ‘n ongemaklike vorm dat dit die lap grootliks sal ruineer om enige iets anders van te maak. Maar my besluit is geneem en die broek gaan ek red! So sny ek dan die groot hap uit die lap en maak seker dat hy reg sal pas waar hy moet kom. Ek besef onmiddellik dat die lap nou eintlik nie meer bruikbaar is nie en sit dit maar by die oorskietlappies wat na die plaaslike kleuterskool gestuur word.
So sit ek toe die oudioboek aan en ek begin verbete lostorring aan die nate. Hoe verder ek lostorring, hoe meer kom ek tot die besef dat die skade aan die broek GROOT is. Keer ek toe terug na my ooskietlap en gaan soek ‘n stuk om in te las op ‘n dun plek op die sitvlak. Uiteindelik klaar met die lostorring, sit ek my voor die masjien neer en begin stik. Ek is nogal baie in my skik met die resultaat. Meesterlike werk, al moet ek dit nou self sê. Toe ek die rek wil deurryg, besef ek dat diè eintlik ook gedaan is. Maar ek het rek in die kas en ek sit ‘n nuwe een in. Toe val my oog op die some. Ek is bietjie aan die kort kant en my broeke is gewoonlik te lank. Hierdie some het ek nooit korter gemaak nie en hulle het bietjie deurgeskaaf en lyk sleg. Ek besluit om sommer die some ook met die lap te las terwyl ek nou besig is. So gedink, so gedaan en binnekort lyk my broek toe ... oud en gelap. Die ou lap steek maar sleg af teen die nuwes en dis duidelik dat dit nie die seisoen gaan deursien nie. Tog is ek nog nie bereid om die saak gewonne te gee nie en ek pas die broek aan. Wat ‘n teleurstelling!
Die gemak is daarmee heen! Die nuwe lap hang styf en lomp aan die ou lap wat lyk of dit skaam is waar dit agter die stywe lap invou. Die rek sit nie lekker nie, die inlas-nate krap en die niks wil reg hang nie. Dis toe ek onthou van Jesus se woorde in Lukas 5:36
“Niemand skeur ‘n stuk uit nuwe klere om daarmee ou klere te lap nie. Al sou hy dit doen, sou die nuwe klere stukkend wees, en buitendien sal die nuwe lap nie by die ou klere pas nie.”
Ek het nou wel nie nuwe klere stukkend gesny nie, maar die nuwe lap het al die potensiaal gehad om nuwe klere te word in my hande. Tog het ek daardie lap geruineer vir enige verdere nut en daarmee saam ook nie daarin geslaag om my gemaklike ou pajamas te red nie. So gaan soek ek toe na die kern van Jesus se lering en laat die naaldwerk maar staan.
Hy het hierdie woorde teenoor die godsdiensleiers uitgespreek nadat hulle Jesus gekonfronteer het omdat sy dissipels nie die godsdienstige tradisies onderhou het nie. Jesus het hulle geleer dat Hy ‘n nuwe manier van doen ingelui het en dat daar nie meer plek was vir die oue nie. Daar was geen sin in om die twee saam te beoefen nie. Die oue se tyd was verby.
Ek kon ‘n hele nuwe broek uit die nuwe lap gesny het. Maar toe wou ek vasklou aan die gemak van dit wat ek ken en met al daai harde werk het ek slegs daarin geslaag om albei, die oue en die nuwe, te ruineer.
Ek kon nie help om my eie godsdiens in die oë te kyk en te ondersoek nie. Was ek besig om laslappie-godsdiens te beoefen, omdat ek vasgeval was in die gemaklike gebruike en tradisies wat ek geken het? Is jy? Jesus het gekom met ‘n splinternuwe reddingsplan vir jou en my. Ons kan nie God se arm draai deur dinge te doen nie. Jy kan jou offerandes laat staan. Jy hoef nie te vas nie. Jou deelname aan die koor of diens by die kerk is slegs nuwe vorme van Levitiese dienste. Jesus het ‘n bedeling van verhouding en genade ingelui. Vroeër in dieselfde hoofstuk roep Hy vir Simon Petrus as dissipel. Toe Simon (soos hy hier genoem word) besef met Wie hy hier te doen het, versoek hy Jesus om van hom weg te gaan, want hy besef dat hy te sondig is om in die teenwoordigheid van soveel heiligheid te wees. Die res van die storie is ‘n bekende een van genade, vergifnis, foute, en nog vergifnis, gevolg deur miljoene mense wat in Christus glo. Maar dis dieselfde Petrus, onder andere, wat hier daarvan beskuldig word dat hy nie die godsdiensgebruike onderhou nie.
Hoe treurig sou die verhaal nie gewees het as Petrus besluit het om die wet te onderhou eerder as om Christus te volg nie. Jy kan nie altwee doen nie. Ou lap en nuwe lap werk nie saam nie. Kan ek jou nooi om alles te laat staan en slegs jou oë op Jesus te hou? Sy genade is vir jou genoeg.

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy the books here:
You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
For more crafty ideas and great products, visit A Pretty Talent on Facebook.
Remember to keep nurturing your TALENT for making PRETTY things.
You can subscribe to this blog and receive regular updates by email by simply registering your email address at the top of the current blog.

No comments:

Post a Comment